Kry jy die blouaapstuipe as mense verkeerd spel? Blok jy al die goedige siele wat saans vir jou ‘n prentjie van ‘n bossie blomme stuur, met ‘n gebedjie en “lekker slaap” in groot letters? Skree jy bo-oor die radio as iemand voor jou ry asof hulle nêrens hoef te wees nie, of sommer by die venster uit wanneer ‘n taxi voor jou indruk om regs te draai? Dit is papelellakoors! Maar die dinge wat jou irriteer van ander is dalk niks teen al die dinge van jou wat ander irriteer nie. ‘n Bose kringloop. Dalk moet jy jouself (en ander) net nie so ernstig opneem nie. Is lag, trane en musiek miskien die beste medisyne vir papelellakoors? Elzabé Zietsman het, baie teësinnig, lank in die spieël gekyk op soek na ‘n openbaring. Sy soek nog steeds.